fbpx

Belasting, die las raak al swaarder

Die las op belastingbetalers in Suid-Afrika raak al swaarder. Verskeie faktore dra hierby toe, waarvan die grootste seker die feit is dat die bevolking waaraan die regering dienste moet lewer vinniger groei as die aantal belastingbetalers van wie die regering belasting kan hef. Indien daar nie dringend aandag gegee word aan die probleem van ʼn uitermatige hoë bevolkingsgroei, instroming van mense uit buurlande en werkloosheid nie gaan die probleem net vererger. Die feit dat die staatsdiens op die oomblik rekordvlakke van korrupsie en wanbesteding ondervind help natuurlik glad nie en sal ook baie vinnig aangespreek moet word.

Die landbou gaan reeds gebuk onder ʼn koste-knyptang waar die pryse van insette vinniger styg as die verkoopspryse van landbouprodukte, en die ekstra las wat hoër belastingkoerse op die landbou plaas maak dit nóg moeiliker om volhoubaar te boer. Produsente en hulle rekenmeesters/raadgewers sal deeglik moet besin of hulle besighede reg gestruktureer is om die bes moontlike belastingomgewing te skep.

Die bekendste belastings wat produsente raak is inkomstebelasting, kapitaalwinsbelasting, belasting op toegevoegde waarde, boedelbelasting en skenkingsbelasting, hereregte en dividendbelasting. Ons kyk kortliks hoe elkeen van die bogenoemde verander het oor die afgelope paar jare.

Inkomstebelasting:
Die hoogste koers waarteen individue inkomstebelasting betaal, wat ook die vaste koers is waarteen trusts inkomstebelasting betaal, was tot en met die Februarie 2015-boekjaar 40%. Vir die Februarie 2016-boekjaar is dié koers gelig na 41% en vanaf die Februarie 2018-boekjaar is dit 45%.

Hier is dit belangrik om te besin of daar nie eerder in ʼn maatskappy geboer moet word nie. Maatskappye word teen ʼn vaste koers van 28% belas, en as die maatskappy se omset onder R20 miljoen per jaar is en daar aan sekere vereistes voldoen word, kan kleinsakeskale gebruik word wat daarop neerkom dat die maatskappye op ʼn glykoers van 0%, dan 7%, dan 21% en dan eers 28% belas word. Op ʼn belasbare inkomste van meer as R550 000 beloop die besparing R95 070 per jaar volgens die huidige belastingskale. Daar is egter sekere nadele ook soos dat maatskappye nie van nivellering kan gebruik maak soos individue nie. Elke geval moet op sy eie meriete hanteer word en die rekenmeester/raadgewer se kennis van die belastingwetgewing kan hier van onskatbare waarde vir die produsent wees.

Kapitaalwinsbelasting:
Die koers waarteen kapitaalwinste by ʼn individu se belasbare inkomste ingesluit word was vanaf 1 Oktober 2001 toe kapitaalwinsbelasting ingestel is, 25%. Vanaf 1 Maart 2012 is dit verhoog na 33,3% en vanaf 1 Maart 2016, na 40%. Vir maatskappye, beslote korporasies en trusts is die koers van 50% vanaf 1 Maart 2001 verhoog na 66,6% vanaf 1 Maart 2012, en toe na 80% vanaf 1 Maart 2016.

Hier is dit belangrik om te let dat kapitaalwinsbelasting se invloed al groter word en dit daarom al belangriker word om groeibates soos grond en aandele in ʼn trust of maatskappy te hou waar daar nie by die produsent se afsterwe kapitaalwinsbelasting betaalbaar is nie. Indien groeibates soos die plaas steeds in die produsent se eie naam gehou word is dit baie duur om nou oor te skuif na ʼn trust of maatskappy aangesien kapitaalwinsbelasting dan betaalbaar is, maar daar is ʼn proses (Artikel 42 van die Inkomstebelastingwet se bate vir aandeel ruiling) waarmee dit belasting-neutraal gedoen kan word. Weereens is dit belangrik dat die produsent met sy rekenmeester/raadgewer sal konsulteer om die beste oplossing te vind.

Belasting op toegevoegde waarde:
Die koers waarteen belasting op toegevoegde waarde gehef word was sedert 30 September 1991 toe BTW ingestel is, 10%. Dit het vanaf 7 April 1993 verhoog na 14%, en is vanaf 1 April 2018 verhoog na 15%.

Daar is nie veel wat produsente kan doen aan belasting op toegevoegde waarde nie, behalwe om seker te maak dat alle fakture korrek uitgemaak word, sodat BTW wat teruggeëis kan word nie verlore gaan weens foutiewe fakture wat deur die Suid-Afrikaanse Inkomste Diens afgekeur word nie.

Boedelbelasting en skenkingsbelasting:
Boedelbelasting en skenkingsbelasting is beide gehef teen ʼn vaste koers van 20% tot en met 1 Maart 2018, waarna dit gehef word teen ʼn glyskaal met ʼn koers van 20% vir die eerste R30 miljoen, en dan 25% vir alle bedrae bo R30 miljoen.

Dit word al hoe belangriker dat produsente gereeld hulle testamente hersien en dat daar deeglike boedelbeplanning deur ʼn kundige gedoen word om die uitwerking van stygende boedelbelastingkoerse teen te werk. R30 miljoen klink na ʼn baie groot bedrag en die meeste produsente dink as hulle plase in trusts of maatskappye is sal hulle boedels nooit so groot wees nie. Onthou egter dat alle lewensdekking wat by dood uitbetaal en enige bedrae wat deur die produsent se trusts en/of maatskappye op leningsrekening aan hom verskuldig is, asook enige aandeelhouding in maatskappye se waarde, by die boedel getel word.

Hereregte:
Die topkoers waarteen hereregte gehef word was 8%. Dit is op 1 Maart 2015 gelig na 11% en toe weer op 1 Maart 2016 na 13%.

Dit word dus al hoe duurder om eiendom aan te koop. Produsente moet onthou waar kommersiële eiendom deur ʼn entiteit wat BTW-geregistreer is aangekoop word by ʼn entiteit wat nie vir BTW geregistreer is nie, daar hereregte betaalbaar is op die koopprys, maar dat die geagte BTW weer teruggeëis kan word op die koopprys.

Dividendbelasting:
Dividendbelasting het op 1 April 2012 die ou sekondêre belasting op maatskappye, wat 10% beloop het, vervang teen ʼn koers van 15%. Dit is vanaf 22 Februarie 2017 verhoog na 20%.

Daar is nie dividendbelasting betaalbaar waar een maatskappy dividende aan ʼn ander maatskappy betaal nie. Produsente moet in oorleg met hulle rekenmeesters/raadgewers kyk of hulle nie die aandeelhouding in maatskappye wat dividende uitbetaal eerder in maatskappye as in trusts of in hulle eie name moet hou nie. Solank hulle die maatskappy se opbrengs gebruik en nie weer uitkeer as ʼn dividend aan die aandeelhouers nie, sal hulle dan 20% dividendbelasting spaar op die dividende. Dit is egter belangrik om die effek wat bogenoemde skuiwe op boedelbelasting en kapitaalwinsbelasting kan hê, in gedagte te hou.

Ander belastings:
Dan is daar ook nog ander belastings soos die Padongelukfonds wat van 45c/liter in 2008 gestyg het na R1.93/liter in 2018, en die brandstofheffing wat van R1,27/liter in 2008 gestyg het na R3,37/liter in 2018. In totaal het die heffings op brandstof dus in 2008 R1,72/liter beloop teenoor R5,30/liter in 2018.

Aksynsbelasting op sigarette en drank word onder andere ook jaarliks baie verhoog terwyl daar ook nuwe belastings ingestel is soos die belasting op plastieksakke en suiker.

Daar is weinig wat produsente aan die uitwerking van die ander belastings kan doen behalwe om ʼn gesonder leefstyl aan te kweek deur meer te stap en fiets te ry, minder te rook en te drink, en ʼn lae-suikerinhouddieet te volg.

Dit is duidelik uit bogenoemde dat die las op belastingbetalers al swaarder raak, en dit word dus al hoe noodsaakliker vir produsente om gereeld met hulle rekenmeesters/raadgewers te besin of die huidige strukture waarin hulle besighede bedryf word, steeds die beste en belastingvriendelikste manier is om handel te dryf.

Outeur: Arnand Stofberg – B Agric Admin (US); B Compt (UNISA), Direkteur: BVSA Worcester (Edms) Bpk; BVSA Rekenmeesters (Edms) Bpk

Jongste Rubrieke

Start typing and press Enter to search